HOME / TUIS GUILLAUME DU TOIT

FRANÇOIS DU TOIT

FAMILIE WAPEN GESKIEDENIS

Francois was spoedig 'n vername boer en is benoem tot Heemraad van Drakenstein. Daarby was hy ook ouderling van die gemeente. Hy en Guillaume het 'n lewendige rol gespeel in die opstootjie wat daar geskied het tussen die Goewerneur en die Koloniste oor die klagbrief van Adam Tas.

 Onder datum van die 20ste Des. 1706 vertel Tas dat hy daardie dag by Francois du Toit die ete geniet het. Dieselfde nag is hy gewek deur die geklop van Abraham Bleusel, wat van Drakenstein gery het (,, trouw-hartig stuk," meld Tas), om Tas mee te deel dat vyftien Franse daardie dag aan die huis van Du Toit was en dat die Landdros besig was om die boere te beweeg om 'n geskrif te laat teken ten gunste van die Goewerneur. Eers is hulle met beloftes toegespreek, meld Bleusel, naderhand met dreigemente, maar hulle kon Du Toit nie beweeg nie. Eindelik was die Landdros so ,,vervloekt gram dat hy besurf in sy tronie en bevende 't schrift voorlas." Ook is die deur gesluit en iemand daar gestel om dit op te pas. Niemand wou egter teken nie, en Tas voeg daarby: ,,Ik wil wel hoopen die lompen schoft op meer plaatsen so sal vaaren."

Sowel Guillaume as Francois is gevolglik gelas om voor die geregshof te. Verskyn in verband met die ondertekening van die klagbrief, maar hulle het geweier om aan die versoek te voldoen en het saam met sewe ander burgers na die Vier-en-twintig Riviere gevlug. In hul afwesigheid is die vonnis uitgespreek, nl. dat hulle na Mauritius verban word. Die Goewerneur het alles in sy vermoë gedoen om die manne terug te kry, maar tevergeefs. Guillaume en Francois het, na dit blyk, vriende gehad onder die dienaars van die Goewerneur en die het die Du Toit's in 'n brief wat hulle aan die manne geskryf het, aangeraai om terug te keer.

Gilles Sollier, 'n mede vlugteling en 'n intieme vriend van die Vlugtelinge, is versoek om die brief aan die manne af te lewer. Gilles het egter nie gerus gevoel oor die sogenaamde vaderlike advies nie, en in plaas van die boodskap oor te bring, waarsku hy sy vriende deur hulle te vertel van 'n voorval wat in Frankryk gebeur het. Sy brief aan Du Toit lui:

,,Meneer, wees hartlik gegroet.    'n Brief is aan my gewys en ook drie keer aan my voorgelees, en my is gevra om dit aan u te stuur. Ek het egter geweier om dit te doen.   Ek twyfel nie dat ander maniere gevind sal word om dit te stuur nie. Die inhoud van die brief is as volg. ,Geen kwaad sal aan u of u maats gedoen word en mnr. Elzevier, asook mnr. Bouman waarborg dat dit nie sal gebeur nie. Dit is 'n delikate saak en moet goed oorweeg word. Ek kan nog onthou dat toe ek in die diens van die Koning van Frankryk was en in die garnisoen te Charlmont, het al die tamboerslaners van die regiment weggeloop en ek het bevel gekry om saam met vier ander hulle agterna te jaag, wat ek ook later gedoen het. Ons het ons in 'n boer se woning versteek en toe ons omtrent 'n uur lank daar was, het die tamboer­slaners aan die deur geklop. Toe hulle ons gewaar, het sommige weerstand gebied en probeer ontvlug. Nadat een van hulle dodelik gewond is, het die Kaptein uitgeroep: ,Kinders, keer asb. terug, geen kwaad sal aan julle gedoen word nie.' Die tamboerslaners het daarna geluister en hulle oorgegee. Ons het hulle na Charlmont teruggebring. Die Krygsraad het hulle veroordeel tot die swaarste strawwe, en terwyl die ongelukkige manne hul strawwe moes dra, het hulle gedurig geroep: ,Kaptein, julle het ons bedrieg, ons het julle vertrou en julle beloftes aangeneem dat geen leed ons aangedoen sal word nie.' Maar die manne antwoord: ,Julle is nou in die hande van die Koning, ons is nie magtig om in julle guns op te tree nie.' Presies so, verseker ek julle, sal julle, as julle terugkeer na die Kaap en julle dan beroep op diegene wat borg gestaan het, maar net tot antwoord kry: ,Ons kan nie julle help nie, julle het nou met die Goewerneur te doen.' My advies is dus, verberg julle verder.'" (Get.) Gilles Sollier, dd. 30 ste Junie 1706.

 Dit is onnodig om te se dat hulle die raad van Sollier aangeneem en hulle versteek het. Nie lank daarna nie is Guillaume egter gevangenemer, en eers nadat Van der Stel herroep is na Holland, is hy weer vrygestel. Die ander het ook toe eers na hul huis teruggekeer.

 Francois en sy vrou was geseën met nege kinders:

 A(1)   Andries (1691) het op 7 Maart 1717 in die huwelik getree met Martha Rossouw, dogter van die Hugenoot Pierre Rossouw.    Hy was woonagtig  te  Stellenbosch en  het  aan  die burger dragonders  behoort. Later is hy benoem tot Heemraad van Drakenstein, en het ook gedien as diaken van die gemeente.    Sy kinders was:—

A(a)      Pieter (1717).

A(b)      Francois (1720).

A(c)o    Andries (1721), gehuud met Alida de Swart. (Ac1)

A(d)o    Stephanus (1724), gehuud met Sara Susanna Moller. (Ad1)

A(e)o    Anna (1727), gehuud met Carel du Plessis. (Ae1)

A(f)o     Gabriel (1729), gehuud met Claudina van Hoeting. (Af1)

A(g)o    Guillaume (1733), gehuud met Maria van Billion. (Ag1)

A(h)      Pieter (1736).

A(i)o     Martha (1738), gehuud met Johannes Stephanus Marais. (Ai1)

B(2)   Stephanus  (1693)  was eers getroud met Debora  Marais en is daarna, in 1757, hertroud met Maria Jacobs, weduwee van Pieter Barend Blom. In 1729 is hy gekies tot diaken van die Drakensteinse gemeente. Uit die eerste huwelik is twaalf kinders gebore, maar die tweede was kinderloos. Die kinders was : (a) Anna Susanna, (b) Martha, (c) Hester, (d) Hester (2de), (e) Carel Francois, (f) Debora, (g)  Geertruida, (h) Helena Maria, (i) Stephanus, (j) Francois, (k) Elisabeth en (l) Carel. Hulle was ingetroud in die families Naude Joubert, Blom, De Villiers, Malherbe, Relief, Botha en Nieuwoudt.

C(3)   Helena (1695) was getroud met die stamvader Ernst Frederik de Swart, van Thiel. Sy was sy tweede vrou. Nadat hy haar ontval het, is sy hertroud met Arend Olivier.   By hom het sy net een dogter gehad, Helena (geb. 1731). Op 17 Maart 1739 het sy vir die derde maal in die huwelik getree met Johannes Botha, jongste seun van die stigter van die familie Frederik Botha van Wagerheim. Die huwelik was kinderloos.

          D(4)   Pieter (1697) was getroud met Elisabeth Rossouw. In 1720, het hy by die Kompanjie aansoek gedoen om 'n stuk grond in Drakenstein wat bekend was as Palmietvallei. Vier jaar later is hy aangestel as diaken van Drakenstein, en is in 1735 benoem tot lid van die Landdros en Heemrade. Hy en sy eggenote was geseën met elf kinders : —

            D(a)      Francois (1717), gehuud met Petronella van der Merwe, hertroud met Anna Jordaan, weduwee van Jacobus van Heerden

D(b)      Pieter (1719), gehuud 1740 met Susanna de Swart.

D(c)      Anna (1722), gehuud met Roelof van der Merwe.

D(d)      Andries (1724), gehuud met Alida Margaretha Moller.

D(e)      Susanna (1727), gehuud met Willem van der Merwe, hertroud met Jeremias Coetzer.

D(f)       Daniel (1729).

D(g)      Johannes (1731), gehuud met Johanna Pienaar.

D(h)     Daniel (1734), gehuud met Susanna Celliers, hertroud met Maryna   Magdalena Strydom. Hy was vader van agtien kinders.

D(i)       Elisabeth (1737), gehuud met Wensel Christoffel Coetzer, hertroud met Johan Christoffel Volker van Kaffenroth.

D(j)       Stephanus (1739), gehuud met Elisabeth de Villiers.

D(k)      Marie Magdalena (1743), gehuud met David de Villiers. 

E(5)      Francois (1699) is op 12 April 1722 in die huwelik bevestig met 'n weduwee Maria van Marseveen (geb. Theron). Uit die huwelik is agt kinders gebore, waarvan die jongste - E(h) Thomas  Arnoldus — ongehuud   oorlede is :

E(a)      Jacobus (1723), gehuud in 1748 met Margaretha Blignaut.

E(b)      Elisabeth (1725), gehuud met Carel Marais, hertroud met Philippus du Plessis.       .

E(c)      Maria Susanna (1727), gehuud met Pieter de Vos.

E(d)      Martha (1729), gehuud met Jacobus de Wet.

E(e)     Geertruida (1731), gehuud met Andries Smit, hertroud met: Jan Jacob Doeksteen, van Magdeburg, en Franciscus van Heerden, van Utrecht.

E(f)       Helena Cecilia (1734), gehuud met Jacobus Verster.

E(g)      Francois (1737), gehuud in 1763 met Sara Bockelenberg.

 

F(6)      Martha (1701) was getroud met Johannes, seun van die stamvader Hendrik Christoffel  Moller, van Hamburg. Na die geboorte van haar vierde kind is sy oorlede, en haar man is hertroud met Maria Uys.

Haar oudste seun Hendrik Francois (1722), was getroud met Rachel de Villiers, weduwee van Jacob Hugo, en na haar dood is hy hertroud met Anna Marais. Johannes Stephanus se eggenote was Petronella van Heerden; die een seun Johannes Jacobus, het hom nie in die huwelik begeef nie. Die enigste dogter Sara Susanna (1725), het die vrou geword van Stephanus du Toit. 

G(7)      Geertruida (1703) was getroud met 'n kleinseun van Frans Bastiaans, wat van Amiens (Frankryk) afkomstig was. Die egpaar het net een seun gehad Frans. 

H(8)      Elisabeth (1705) was getroud met Jacques, naamgenoot van die Hugenoot Jacques Theron. Hulle  het  vyf  kinders  gehad: Susanna, Maria Susanna, Elisabeth, Jacobus en Pieter. Die het hulle verbind met die families Olivier, De Vos, Blignaut en Janse. 

J(9)      Maria (1709) het stammoeder geword van die Bierman-geslag in Suid-Afrika.     Sy is met haar eggenoot, Frederik Bierman, op die 22ste Julie 1725 in die huwelik bevestig. Die twee oudste kinders Susanna Elisabeth en Johannes Frederik, is albei ongehuud oorlede.

Die enigste seun, van wie al die Bierman's afstam, Jacobus Lourens, was getroud met Anna Alida Grito, by wie hy nege kinders gehad het. Die was ingetroud in die families Du Plessis, Leonhardi en Buys. Maria is in ongeveer 1730 oorlede en daarna is haar man hertroud met Anna du Plessis. 

Toe die eerste Wetgewende Raad aan die Kaap in die lewe geroep is, in 1834, was Jacobus du Toit onder die eerste lede en het tien jaar lank as sodanig gedien. Onder die Swellendam se burgers van 1795 word melding gemaak van Ernst du Toit (vermoedelik die kleinseun van die stamvader wat met Leonora Malan getroud was), wat hom by die burgers geskaar het wat hulle nie langer wou onderwerp aan die mag van die Landdros nie, en wat die dienaars van die Oos-Indiese Kompanjie te Swellendam van hul pos afgeset het. 

In Worcester was die Du Toit's van die vroegste tye af 'n bekende familie. In die reisjoernaal van kommissaris De Mist word aangehaal van veldkornet Du Toit, wie se woning aan die Breederivier (Worcester) was. 

,,Wij passeerden dus nog eens de Breede rivier," so skryf die Kom­missaris in sy joernaal, ,,en maakten een kleinen omweg om een bezoek bij den Veld Cornet du Toit afteleggen, waarover wij geen berouw hadden. Wij werden hier allervriendlijkst onthaald en vonden de vrouw, ofschoon iets zwaar van postuur, in hare levenswijs zoo weloppgevoed dat men haar gemaaklijk in de fatzoenlijke gezelschappen in het Vaderland zoude kunnen introduceeren. Zij had alle kleine attentien in het werk gesteld om den Commissaris Generaal zijn aanstaande nagtverblijf bij haren ouden oom gemaaklijk te maken. Wij zagen hier eene koe die reeds zedert een maand aan de lamziekte gelegen had. Hij at echter goed, en dit gaf hoop dat hij weder bij komen zoude. Een quartier uurs verder kwamen wij bij den 70 jarigen D. du Toit, op het groot eiland aan de Smalblaeren rivier aan en wierden van hem en zijne jongere vrouw en kinderen vriendelijk ontvangen en rijklijk onthaald. Deze man had nog een kind dat nog geene drie jaren oud was." 

Naby Brandvlei (Worcester) het 'n ander lid gewoon, Pieter A. du Toit. Ook hy het die Kommissaris baie vriendelik ontvang en 'n smaaklike middagete voorgesit. Hy het die reisigers met sy perdewa weggehelp tot by Tulbagh, waar 'n bloedverwant, C. du Toit, op die plaas Roodewal gewoon het, 'n daad wat deur die dames (die Kommissaris se dogter en haar metgeselle) baie waardeer is. Hulle was waarskynlik al moeg van ossewa ry.

In 1824 het van die slawe by Worcester, bygestaan deur Hottentotte, in opstand gekom teen hulle base. Veldkornet Du Toit, wat in die distrik woonagtig was, het dadelik 'n kommando bymekaar geroep en die Hotten­totte gedwing om oor te gee. Hulle is gevange geneem en voor die Geregshof gedaag. Drie van hulle is gehang, en hul hoofde is daarna op pale blootgestel; vyf is gegésel en 'n lang tydperk in die gevangenis geplaas, en twee is net gegésel. 

In die Bokveld het 'n ander lid van die familie, veldkornet Du Toit (van Wagendrift), te kampe gehad met slawe wat in 1821 verskeie veeboere daar vermoor het. Melding word gemaak van een van die slawe wat veertien littekens op sy lyf gehad het toe hy gevange geneem is. Dit het die aandag getrek van die dokter toe hy die slaaf in die gevangenis ondersoek het, en toe hy die slaaf ondervra omtrent die littekens, was sy antwoord:

,,Deur 'n pak slae met die rottang in Worcester se tronk.

Deur 'n pak slae met 'n riem in die Tulbagse gevangenis.

Deur 'n pak slae van my baas, met 'n sambok.

Deur verskeie pakke met 'n stok van my baas.

Deur die vasbind met toue in die gevangenis.

Geskawe deur die boeie, op weg na Kaapstad.

Deur 'n hou wat ek opgedoen het met 'n stok toe ek in hegtenis geneem is.

Deur die skop van 'n os.

Deur 'n geweerskoot wat op my gevuur is tydens my gevangeneming.

Deur 'n hou met 'n stok van die Veldkornet.

Deur die horing van 'n os.

Deur houe met stokke op verskillende tye.

Deur 'n seer wat vanself gekom het." 

Jacobus du Toit, van Breederivier, en Pieter du Toit, van die plaas Roode Draay, Goudini, is in 1805 besoek deur die Kommissie van Veeteelt. Laasgenoemde was bekend weens sy vet osse. Naby Jacobus se plaas het die wa van die voorsitter van die Kommissie, W. S. van Ryneveld, in die rivier omgeval. Van Ryneveld het horn beseer deur uit die wa te spring. Die manne het probeer om die wa op te lig, maar die water in die tent van die wa het hulle verhinder en hulle moes alles net so agterlaat en te voet voortgaan na Du Toit. ,,Man en vrouw, beiden, schoon van onze komst onbewust," lui die reisjoernaal, ,,ontvingen en behandelden ons met veel heuschheid. Hij zond terstond eenige jongens om den wagen uit de rivier te haalen, waarmede men dan ook een uur daarna op die plaats aankwam. Hoewel alles nat geworden was, leeden wij door de attentie van 't Huisgezin van gemelden Du Toit egter geen ongemak. Du Toit self begeleide ons nog ruim een uur reidens van zijne plaats tot door de Hex Rivier Kloof, van waar hij te paard terug reed. De weg viel ons egter in hand, hier en daar waren de driften wel moeijelijk, en ook vol met ronde kleij steenen, doch de behendigheid van onze jongen voerman deed alle denkbeeld van gevaar verdwijnen." 

Toe die Drosdy in Tulbagh opgerig is, het Gerrit du Toit ook met die bouery gehelp. Sy wa met tien osse het daagliks die klippe en sand aangery vir die gebou. Nadat die kantore van die Landdros verplaas is na Worcester, was die inwoners bitterlik ontevrede. J. F. du Toit (Johannes Francois ?) was een van die afgevaardigdes, wat na Kaapstad gekom het om te pleit dat die plan nie uitgevoer moet word nie. Een van hierdie Du Toit's, Johannes, het in 1821 'n plaas ontvang naby Hexrivier. 

Die eerste posmeester van George was Hendrik Stephanus du Toit. Hy is in 1826 aangestel deur sir Charles Somerset, teen die salaris van £18 per jaar. Sy seun, Stephanus Francois, het horn ses jaar later opgevolg, maar die het by die Landdros, J. W. van der Riet, gekla oor die klein salaris. Sy groot moeilikheid en uitgawe, het hy verklaar, was dat hy genoodsaak was om perde op stal te hou om die pos oor die George hoogte te vervoer. Een perd wat aan horn behoort het, het so moeg geword van die steil hoogte dat dit ,,gevrek het ". Selfs die drywers, het hy verklaar, het geweier om oor die steil hoogte te gaan, tensy hulle meer betaal word. Die Landdros het gevolglik Du Toit se skade vergoed en sy salaris verhoog. 'n Ander lid van die familie, Stephanus du Toit, het gedien as klerk in die magistraatskantoor. Die aanstelling is deur graaf Caledon goedgekeur. Die het gekla dat hy vader was van so 'n groot gesin, dat hy verplig was om aansoek te doen om verhoging van salaris.  

Een tak van die familie het in Beaufort Wes gewoon, waar hulle welgestelde boere was. Een van hulle, Gerhardus Johannes, was eienaar van baie slawe. Sy slawe was, na dit blyk, voortdurend in die moeilikheid omdat hulle na sonsondergang nog op straat gevind is sonder ,,pas ", en boonop ook sonder lantern, wat ook strafbaar was. Oor druiwe steel het die slawe baie slae gekry. 

In die Clanwilliamse distrik het ook Du Toit's gewoon. Een van hulle, Johannes, het by 'n Engelse nedersetter, Ingram, 'n plaas gehuur, Patrys vallei. In 1824 is hy op 'n keer ondervra oor die jaarlikse opgaaf van Ingram. Ingram het verklaar dat hy geen Spaanse Merino's besit nie, dog later is bevind dat hy eienaar was van twee sulke merino's. Du Toit het verklaar dat Ingram dit aan sy dogter (Du Toit s'n) geskenk het. Later het die vader egter die aap uit die mou gelaat en bekend gemaak dat Ingram net na die opgaaf weer die skape teruggeneem het van sy dogter, wat veroorsaak het dat die saak lank gesloer het eerdat dit opgelos was. 

Die Du Toit's was ook onder die Voortrekkers. Onder die eerstes wat die kolonie verlaat en sy lot ingewerp het met Sarel Celliers, was Jan du Toit, van Tarka. Hy was getroud met die dogter van Barend Liebenberg. Sowel hy as sy vrou is later deur die Matabeles aan die oewers van die Vaalrivier vermoor.         

Name van die lede van die familie wat hulle later in die Vrystaat gevestig het, kom voor onder die vernaamste manne van daardie staat, o.a. Gerrit Johannes, Carl Pieter en Lodewyk du Toit. Selfs met die verkiesing van die eerste president van die Oranje Vrystaat, kom die familie eer toe, in so ver dat een van die kandidate vir die presidentskap ook 'n lid van die familie was, nl. komdt. Andries du Toit, vroeër van Beaufort Wes Hy het aan die Kafferoorlogvan 1846 deelgeneem en met sy manskappe geveg teen Kreli. 

Van die Emigrante boere wat die Vrystaat bereik het, het sommige hulle aan die Caledonrivier gevestig. Melding word gemaak van een ou vader, met name Gabriel du Toit, wat op 'n plaas bekend as Paddafontein gewoon het. In 1865 was op dieselfde plaas 'n kamp, wat onverwags deur die Basoeto's aangeval en twee dae lank omsingel is, dog die klompie Emigrante het later op wonderbaarlike wyse ontkom. 

Die afstammelinge van die stamvader Francois het ryklik toegeneem in getal en die Du Toit's is vandag een van die bekendste en geëerdste families in Suid-Afrika. Daar is van hulle op wie die Afrikaners met reg kan trots wees, deurdat hulle manne opgelewer het wat veel bygedra het tot die kultuur van ons volk. Onder die eerste kampvegters vir 'n eie Afrikaanse skryftaal was die alombekende broers, wyle ds. Stephanus Jacobus du Toit en Daniel Francois du Toit (oom Lokomotief). Eersgenoemde kan beskou word as die vader van die Afrikaanse Taalbeweging, en ook van die Afrikanerbond. Die heer Daniel du Toit was redakteur van die ,,Patriot ", een van die invloedrykste koerante tussen die jare 1876—1891, en ook die eerste Afrikaanse uitgawe. 

En watter seun en dogter is nie bekend met die werke van Totius (prof. dr. J. D. du Toit) ons geliefde volksdigter nie ? Ook is daar die wat belangrike poste vul in ons kerke, aan ons universiteite, skole, hospitale en in die staatsdiens. Die familie het waarskynlik die grootste aantal verteenwoordigers in die Volksraad (G.J.W. du Toit, J.G. du Toit, F.J. du Toit, ds. C.W.M. du Toit, kol. M.S.W. du Toit, P.P. du Toit en R.J. du Toit) as enige ander.

Uit die "HUGENOTE FAMILIEBOEK" Deur A.J. Kannemeyer